VERNUWING VAN DIE KERK OF VAN DIE HART ?

 

In ons tyd is daar talle kerke en gemeentes wat met ‘n soort vernuwing begin het. Hierdie is ‘n baie interessante soort vernuwing, want dit gaan veral oor die nuwe rol van die prediker, ‘n nuwe soort preekstyl, ‘n nuwe soort Skrifeksegese, ‘n nuwe soort boodskap, ‘n nuwe styl van gemeentelike bediening, ‘n nuwe groter orkes, ‘n nuwe man op tromme, ‘n nuwe soort kerkraad, ‘n nuwe preekstoel, ‘n nuwe soort jeugdiens (in die aand), ‘n nuwe siening van sonde, ‘n nuwe siening oor die hel, ‘n nuwe siening oor Christus, ‘n nuwe Christus selfs, ‘n nuwe manier van bekering, ‘n nuwe eindbestemming ens. Al wat nog kort is ‘n nuwe bybel (en wees verseker die is oppad) en ‘n nuwe oper houding teenoor Satanisme - dit kom ook nog! Hierdie bg. dinge het egter seker absoluut niks te doen met die feit dat ons bly in die nuwe Suid-Afrika nie of dat ons in die jaar 2000 reeds amptelik die nuwe era betree het nie of dalk dat almal op die ganse planeet na ‘n okkultiese nuwe wêreldorde beweeg nie. Dit kan tog seker nie regtig iets daarmee te doen hê nie, of hoe?

Die probleem vandag is dat die klem in die kerke totaal verskuif het van wat die Woord sê tot wat die mens wil hê. Ons leef in die tyd waar humanisme tot in die kerk hoogty vier - blykbaar veral in die kerk. In ‘n berig wat onlangs in ‘n Sondagkoerant verskyn het (wat ek self nooit koop nie), word gesê dat die nuwe kerk sal wees soos die lidmaat dit verkies. Dus nie meer soos God dit verkies nie. Die nuwe soort struktuur sal blykbaar ook die "lidmaat sentraal" stel. Dit is ‘n absolute eerste vir die kerk. Nog nooit in die geskiedenis van die Christelike kerk was iemand anders as Christus self sentraal nie. Hier het ons nou die kerk van Laodicea ('mense regte' of 'volke regte' of die 'opinie van die mens') in sy volle glorie. In Op. 3:20 het Christus juis buite die kerk gestaan en geklop om toegang. Hoe ongelooflik tragies is die situasie nie vandag nie. Sy koms is so naby !

Een nuwe soort dominee het gesê as die kerk wil groei sal hy moet ophou dreig met die hel, straf en oordeel. So die Bybel is dan ook heeltemal uit pas met hierdie nuwe soort gemeente, want daarin vind ons die eerste en ernstigste vermanings oor hierdie genoemde onderwerpe. Wat hierdie dominee eintlik sê, is dat ons nie moet maak soos Jesus Christus gemaak het nie. Dit was veral Hyself wat so dringend gewaarsku het teen hierdie genoemde dinge. Ons moet dus nie in sy voetspore volg nie. Die nuwe soort predikant weet beter as Christus en het blykbaar meer liefde as wat Hy, wat sy lewe vir ons afgelê het, gehad het en steeds het.

Die feit is dat God nie vernuwing ondergaan nie. Hy bly altyd presies dieselfde. Hy hoef ook nie te vernuwe nie, want Hy is volmaak in al sy weë. Hy is soos Hy is van ewigheid af tot in ewigheid. Die probleem met die nuwe kerkmens van 1999 en sy nuwe profete is dat hyself nog nie vernuwe is in sy hart nie. Ons stryd vandag is nie ‘n nuwe stryd nie. Dit is nog al die tyd dieselfde stryd teen die Satan en sy misleiding. Dit is nog al die tyd presies dieselfde stryd teen sonde soos dit was in al die geslagte voor ons geslag.

Die vernuwing wat die meeste kerklidmate moet ondergaan is die volgende:

- "En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed," (Rom. 12:2).

- "dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê ... en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid."

(Efes. 4:22-24).

- "as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword."

(2 Kor. 5:17).

Hierdie is die manier hoe elke Christen vernuwe en verander moet word. Dit is ‘n individuele vernuwing van die gees. As ‘n kerk of gemeente vernuwe, beteken dit glad nie dat sy lidmate nou ook nuwe skepsels in Christus geword het nie. Die meeste vernuwing wat vandag aangetref word, is eintlik maar niks anders as ‘n ontsaglike afval van die waarheid nie. Dit is meer ‘n klemverskuiwing weg van die sentrale waarhede van die Skrif en ‘n poging om gemeentelede in die gehoor te streel en te plesier met allerlei wêreldgelykvormige soorte van ‘godsdienstige’ vermaak. Die hoofdoel hiervan is ook baie maal om die mense daar te hou, want anders gaan hulle hulle vermaak elders soek. Min kerke en gemeentes vandag is nog ‘n bastion van waarheid wat suiwer Skrifgebonde is en wat medewerkers is van die Heilige Gees om sodoende die individuele lidmaat se ganse lewe te verander en te vernuwe. In die meeste gevalle gaan dit natuurlik oor die geld (die tiendes ens.) wat verloor kan word as die mense nie daar gehou word met grootskaalse wêreldse vernuwing en vermaak nie. In ons dag word baie keer gesê dat ons die jong mense gaan verloor as hulle nie ‘geakkommodeer’ word in die kerk nie. Geen ware gemeente is daar om mense te akkommodeer nie. Hulle is daar om die verlore sondaar die weg te wys na die kruis van Christus en om ook die nuwe jongmens van die jaar 2000 te vermaan dat die weg na die hemel ‘n nou weg is wat deur ‘n smal poort gaan. Die nuwe Jesus van die jaar 2000 mag dalk ‘n baie breë weg verkondig, maar gaan jy ‘n kans vat, oë toeknyp en hoop dat dit jou tog by die eindbestemming gaan uitbring waar jy graag wil wees en nie dalk by ‘n nuwe ander een nie? Die nuwe ‘verligte’ kerkganger van die nuwe era van Aquarius wil sy eie ding in die kerk doen, hy wil nie so eng by die Woord bly nie, maar dan wil hy darem nog na die hemel van die Woord gaan.

In Julie elke jaar hou die sendingstasie by Kwasizabantu in Kwazulu-Natal hulle gebruiklike jeugweek. By hierdie geleentheid woon omtrent 7000 jongmense van verskillende bevolkingsgroepe die geleentheid by. Jongmense van oral hou aan om jaar na jaar hierdie jeugweke by te woon, ten spyte daarvan dat daar geen vermaak vir die jeug aangebied word nie, net drie eredienste per dag. Hoekom werk dit hier so goed. Die verskil is dat die suiwer evangelie van die reddende genade van Jesus Christus sonder kompromie verkondig word. Sonde word deeglik aangespreek, maar daar is ook ‘n ander rede. Sedert 1966, toe daar ‘n ware herlewing uitgebreek het op hierdie sendingstasie - vandag bekend as Kwasizabantu, stroom mense van regoor die wêreld daarheen.

Om jongmense na kerke te lok met ‘n wêreldse soort vermaak wat net so effens ‘verchristelik’ is, is ‘n fatale poging en die ‘vrug’ daarvan sal ‘n nare wrang smaak by die wêreld laat. Dit gaan alles oor ‘n individuele vernuwing van die hart van die mens en het niks te make met ‘n humanisties-georiënteerde gemeen-telike vernuwing nie.

Die Woord vermaan ons in Jer 6:16 met die volgende woorde: "So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel."

In Heb. 13:7 lees ons ook die volgende: "Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na." Die voorgangers van Suid-Afrikaanse gemeentes van ‘n tyd gelede het verseker nie met allerhande onbybelse vernuwingsgedagtes na vore gekom nie. Hulle het die Woord van God reguit en sonder kompromie verkondig. Dink maar aan die helder boodskappe van Andrew Murray. Sy lewe en die van ander na hom, was ‘n ryke voorbeeld vir ons wat vandag in die ‘verligte’ geslag leef. Die uiteinde van hierdie mense se lewens was dat duisende God ontmoet het, ja, die vrug op hulle werk was besonder groot. Dit was ook blywende vrug gewees. Vandag nog word hulle boeke gelees en mense getuig steeds van groot seën.

Die groot nood in ons tyd is dat individue en ook kerkmense se harte vernuwe moet word. Ook dat hulle alle sonde voor God sal bely en Hom sal vertrou vir die vervulling met die Heilige Gees en dat hulle tesame daarmee ‘n algehele oorgawe sal maak aan God. Die gemeentes sal dan self vernuwe en verander in ‘n biddende, Bybelse gemeente en weereens sal duisende tot bekering kom en God begin dien. Bo dit alles sal die heilige Naam van Christus Jesus verhoog en verheerlik word en wêreldlinge sal begin dors na ware geregtigheid. DAN IS DAAR WARE HERLEWING !

IN STILTE ...

 

Een ding wat tot ons geslag se ondergang gelei het, is die groterwordende gebrek aan stilte. Veral ook in kerke word hierdie ‘n al hoe groter probleem. Baie wil nie eers daaraan dink nie, maar kan ‘n mens God se stem in jou lewe hoor sonder dat dit eers stil geword het in jou gemoed? Dit is waar dat God ook met Job gepraat het vanuit ‘n storm, maar dit beteken nie ons moet nou ‘n storm in die erediens opwek om te probeer hoor wat God vir ons wil sê nie. Hierdie saak sluit verseker aan by die huidige vernuwingskultuur van ons tyd.

Die meeste mense kan stilte glad nie verdra nie, want dan dwing dit hulle om te begin dink. In stilte kla jou gewete jou ook baie keer aan en die meeste wil dit ten alle koste verhoed. Die Satan wil dit ook verhoed, want die meeste mense kom onder diep sonde oortuiging IN STILTE ! Die Bybel is egter baie duidelik oor die onderwerp van stilte. Kyk na wat die Skrif sê oor stilte en hoe hoog God dit ag: (Verskillende Hebreeuse en Griekse woorde is in Afrikaans met die woorde stil of swyg vertaal, maar dit gee tog ‘n goeie oorsig van die verskillende soorte van stilte wat bestaan)

- "En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie;" (Gen. 3:8).

- "Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees." (Ex. 14:14).

- "En kyk, die HERE het verbygegaan, terwyl ‘n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die HERE nie. En na die wind ‘n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. En na die aardbewing ‘n vuur; in die vuur was die HERE nie. En na die vuur die gesuis van ‘n sagte koelte. ... En daar kom ‘n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elia?" (1 Kon. 19:11-13).

- "En die Leviete het die hele volk tot bedaring gebring en gesê: Wees stil ! want hierdie dag is heilig;"

(Neh. 8:12).

- "NA my het hulle geluister vol verwagting, en hulle het stil my raad aangehoor. Na my woorde het hulle nie weer gespreek nie, en my rede het op hulle gedrup." (Job 29:21,22).

- "Sidder, en moenie sondig nie; spreek in julle hart op julle bed, en wees stil." (Ps. 4:5).

- "o HERE, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie. Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak;" (Ps. 131:1,2).

- "Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag;" (Jes. 30:15).

- "Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE. ... Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het." (Klaag. 3:26,28).

- "Maar die HERE is in sy heilige tempel - swyg voor Hom, o ganse aarde!" (Hab. 2:20).

- "Swyg voor die Here HERE ! Want die dag van die HERE is naby;"

(Sef. 1:7).

- "Swyg alle vlees voor die HERE ! Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning." (Sag. 2:13).

- "En die hele menigte het geswyg en na Barnabas en Paulus geluister," (Hand. 15:12).

- "En nadat daar ‘n groot stilte gekom het, het hy hulle in die Hebreeuse taal toegespreek ... " (Hand. 21:40).

- "Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek. ... Julle vroue moet in die gemeentes swyg;"

(1 Kor. 14:28,34).

- "die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God." (1 Pet. 3:4).